Wanneer laas het jy iemand geseën met jou askies, jou woorde, jou omgee?
Ek het weer die week lus gehad om iemand se knie skuifies in te skop dat dit sou lyk of hulle in tru-rat is as hulle loop. Kopseer kwaad oor mense se ‘entitled’ houding, in hulle kop die reg om op iemand te trap, iemand uit te sluit. Die houding van ek is slimmer as jy, mooier, maerder.. wat ookal jy jouself op beroem. Ek praat nou van Christen mense. Daar gelaat, as ek meer skryf gaan my hart net swarter word. Daarom die titel van seën. Ek lees nou ‘n aanhaling op sosiale media: ‘ As iemand jou beledig, stop vir ‘n oomblik.. en vra die persoon of hy okay is.’ Ek sal dit moet inoefen. My geaardheid is vlambaar.. so om te stop vir daai oomblik gaan inspanning kos. Die effek gaan dit die moeite werd maak. Die jaar was vol en as ek terug dink dan onthou mens die minder lekker dinge, huis wat gebrand het, my ma wat oorlede is, die familie sages. Vriende sages. Mens moet die lekker begin neerskryf want anders vergeet mens. Uit elke sleg is daar goed, my huis se dak is nou splinter nuut, huis is geverf en dit lyk netjies. My pa is nou naby my en ek leer elke dag iets nuuts van hom. My gesin is volgende vlak oulik, al bereik ons nie altyd ons drome, doelstellings nie. Ek het die seën op my vriendinne uitgespreek en mag jy iets in my woorde vind wat jou sterk gaan maak vir 2023. Ons harte is soms seer Dit wat om ons gebeur laat ons verstom, soms goed soms sleg Maar elkeen van julle is spesiaal Vriendskap se fondasie is respek, die stene liefde, die sement geduld, die bedrading vergifnis en die dak omgee. Seën vir 2023
0 Comments
Leave a Reply. |
AuthorHannelie van Niekerk Archives
December 2022
Categories |