Sommer net ek Ek is moeilik, mens moeilik. My reg en my verkeerd is my wit en my swart. Vir bystaanders kan dit na grys lyk. Net soos wat ek hulle reg en verkeerd as grys sien. Dit laat my besef waarop ek my besluite en denke grond is gevorm deur ou hande in my kinderjare. Ervarings wat mens soms in jou agterkop gooi en wil vergeet. Keuses wat nie joune is nie maar jou lewe se pad met slaggate gevul het. Die lewe het my ook geleer dat sommige mense se reg hulle persepsie is, soms glo hulle, hulle eie versinsels…dit word dan hulle waarheid. Dit is ‘n gesprek vir ‘n ander tyd.
Ek vang myself weer vandag dat ek my frustrasies op my dogter uithaal. Die arme kind kan haar beste probeer maar ek sal tog ‘n fout sien en haar daarop wys. Ek wonder hoekom dit so is. ‘n Goeie vriend van my universiteits-dae het eendag omgedraai en weggestap… ek het dit reggekry om sy omgee brug aftebrand en hom so ver weg te stoot dat ons nie eers meer kennisse is nie. Ou laai van my… moenie te naby kom nie. Dankbaar dat sommige mense deur my sien en nog steeds naby my bly al grawe ek klowe om my, om myself te beskerm. Ek sien van die jongmense se sukkel met goed wat ek ook mee geworstel het in my kinderjare. My raad is altyd, dit is nie jou lewe nie, jy hoef nie skaam te wees vir iemand anders nie. Moenie iemand anders se dinge joune maak nie. Hulle besluit oor hulle lewe, jy besluit om jouself te beskerm teen hulle. Die feit is al is jy hoe sterk gaan dit in jou menswees filtreer en uitkom in jou manier van oorleef. Tyd vir stilword en werk daaraan om my deure se skrefies wyer oop te maak vir die mense wat regtig daar wil wees. Comments are closed.
|
AuthorHannelie van Niekerk Archives
December 2022
Categories |