Ek was so ruk huisvrou net nadat ons Kaap toe verhuis het van Johannesburg. Ek het uit universiteit dadelik begin werk… so my werk was my identiteit. Ek het ook geglo ek sit sent vir sent neer wat my man bydrae, partykeer was dit maar moeilik, verskillende beroepsvelde, verskillende salarisstrukture. Met die beroepstatus verandering het my titel verdwyn… volgens my, my identiteit.
Met die verhuis koop ons vir ons ‘n nuwe plekkie om nes te skrop. Met die vorms wat ek moet invul, besef ek hoe belangrik my werkstitel vir my was. Ek moet in ‘n blokkie invul wat my beroep is! My hart sak in my skoene … wat moet ek skryf? Ek het minderwaardig gevoel. Ek laat die gevoel toe want ek is skaam om te sê ek werk nie in die formele werksektor nie. Ek het nie ‘n titel nie! Ons gee so om oor wat ander van jou sê of dink. Ek wou vir almal skree dat ek net soos my man hard gewerk het vir die geld wat die nuwe huis nou gaan koop. Ek is nie net die vrou van die suksesvolle man nie, NEE! Ek is ‘n eie persoon! Hoor hoe belaglik was my denke, my gevoel. Agtien maande het ek die ondankbare werk gehad van huishouding, kinders en tuin. Alleen en vereensaam het ek geword. Nuut uit ‘n ander provinsie met geen familie of vriend. Bang om my CV in die mark te sit. Soveel negatiewes keer my elke keer. Hoe kan ek myself weer verkoop, hoe kan ek vir hulle vertel van my vaardighede. Ek gaan vir my eerste onderhoud, onsuksesvol! My tweede een suksesvol. Ek het weer die titel! My denke het verander. Die titel maak my nie belangrik nie. Ek is belangrik, net soos elkeen van ons! Maak nie saak wat jy doen nie… Comments are closed.
|
AuthorHannelie van Niekerk Archives
December 2022
Categories |