Vandag 24 jaar terug het ek my woord aan my man gegee dat ek hom sal liefhê tot die dood ons skei. Ons is albei nog lewendig so ons vier die daggie saam. Glo my, so paar keer al het hy by die dood omgedraai .. maar ek is tog bang vir die tronk.. moord is ‘n lelike ding. Ek dink ek het ook al so op die afgrond van moeilikheid rondgehang.
Ons is nie meer die mense wat voor die kansel gestaan het nie.. fiesies beslis nie maar ook emotioneel. Ons het al saam baie gehuil en baie gelag en dan was daar ook dae wat dit net was… die lewe se roetines om ons gevou. Wat maak dit dat ek nog trots is om my ring te dra? Bygesê nie meer die oorspronklike ring nie… die het my vingers ontgroei… Dit is die wete dat hy daar is vir my, my vangnet. Hy luister, hy stem nie altyd saam nie … maar hy bly lief vir my. Ons kan mekaar diep irriteer… maar dit is vir die probleem en nie die mens agter die probleem nie. Ek is gelukkig, ek het my man ontmoet op jong ouderdom, getrou met ‘n sekerheid in my hart. Ons liefde het verander. Ons veroordeel mekaar nie..want dan vat dit die plek van liefde. Liefde is getrou en verdraagsaam. Liefde is die verstaan dat almal foute kan maak en nie altyd goed doen soos wat jy dit sou gedoen het nie. Bly ‘n voorreg! Comments are closed.
|
AuthorHannelie van Niekerk Archives
December 2022
Categories |