Klink soos ‘n kaapse bende .. maar dit is net die aantal jare wat ek ‘n plek opneem op ons moederaarde.
Ek voel soos 17 .. jaar voor my matriek jaar. Drome groot. Vanoggend vat die terugblikke my na baie punte in my lewe. Van my jongmens drome is vergete, wat toe vir my belangrik was is nou nie eers tyd werd nie. Ek is gelukkig want van my drome is realiteite op my lewenspad. Dankbaar vir so baie wat ek gekry het. My pad is gekruis deur mense wat diep spore agtergelaat het. Ander wat so op die oppervlakte net verby gedraf het. Elkeen tog ‘n herinnering en ‘n gedagte. Al is ek 47 is my drome nie minder nie, anders en meer realisties. Ek is dankbaar dat ek nuwe drome kan hê. Ek moes glimlag.. op 17 het ek nie aan aftrede gedink nie.. nou begin dit ‘n realiteit word. Die bang van niks doen wat so in mens se agterkop kom kruip. Ons is nog jonk van gees, dalk nie in jare nie.. ons kinders nog jonk. My wens vir myself is dat ek nie vir aftrede wag nie maar nou voluit lewe. Dat ek my menswees en my tyd met my naby mense deel. Ek lees ‘n blog van ‘n mamma gister oor boelie en hoe mense nie moet daal na die vlak van die boelie nie.
My seun is geboelie en ons het ook heeltyd vir hom gesê om weg te stap, te ignoreer en ja selfs om vir die juffrou te vertel. Niks het gehelp nie. Die boelies het net aangehou. Tot een dag toe kan ek nie meer nie. Dit is toe wat ek vir my kind leer hoe om ‘n boelie met woorde te antwoord. Harde woorde, seer woorde. Hoe om sterk te staan as ‘n boelie stamp, stoot en selfs slaan. My woorde aan my kind was slaan terug.. torso.. geen merke nie. Ek het ook my kind belowe dat ek agter hom sal staan en saam met hom sal staan by die skool as die boelie gaan kla. Boelies is lafaards, met die opstaan teen hulle het die boelie gestop. My kind is nou gelukkig, het lekker maats. ‘n Mamma van een boelie het my kom aanvat en ek het ook opgestaan vir my kind en haar vertel wat haar kind eintlik is. Engel voor almal maar boelie agteraf. Sy het my nie geglo nie end it maak nie saak nie. Die kind is nie deel van ons lewe nie. My ervaring en advies is heeltemal anders as wat die boeke skryf en glo my ek het al die boeke raad gevolg. Elke ouer probeer hard om kinders te beskerm. Moenie ophou gesels met jou kind nie, moenie ophou om in hulle te glo nie. Leer hulle om vir hulself op te staan maar staan agter hulle om hulle te vang. Bome groei skuins saam met die wind. ‘n Boom bly ‘n boom al groei die boom skuins en lyk snaaks. Die boom hou nie op met groei nie, hou nie op met lewe nie.. het net aangepas om nie teen die wind te baklei nie… want die boom weet dit is ‘n geveg wat hy nie gaan wen nie, as hy regop bly gaan hy nie oorleef nie.
Wat het ek al aangepas om nie weerstand te bied nie. Bly ek, soos ‘n boom ‘n boom bly, ek? Wat het ek as Hannelie al verloor… of dalk gewen? Hoe skeef lyk ek al vir ander mense? Einde van die jaar kriewel, wriemel in en om my. Ek probeer 2018 opsom vir myself… ek klassifiseer 2018 as ‘n minder goeie jaar .. maar tog ook nie sleg nie. My werk dalk die laagste punt wat ek in ‘n lang tyd beleef het. Onregverdigheid en mense se maniere om die leer van sukses te klim het my gevang.. dalk omdat ek nie meer wil jaag na wind nie.. maar dan word mens maar net die trap vir iemand anders. Hoekom wil mense altyd ander mense onderdruk om goed te lyk? Die ouer politiek in alles waarin jou kind deelneem het my ook soms ingetrek.. ja… soms kop eerste. Vandag is dit nie meer oor talent nie maar oor invloed. Mag ek aanvaar waar ek nou is of as dit nie kan nie gee my krag om te verander. Maak my siel stil om eers seker te maak wat ek wil hê voordat ek dit jaag. Gee my krag om oor onregverdigheid te kyk en nie myself te verloën nie, my ervaring en kennis vrylik te deel al misbruik of gebruik ander dit. |
AuthorHannelie van Niekerk Archives
December 2022
Categories |