Om te verjaar in eksamen tyd is swak beplanning van jou ouers se kant af… Om einde van die jaar fees te vier moet mens al in Augustus nooi. Almal se dagboeke kry ‘n hupstoot einde van die jaar so as jy laat nooi dan is nee jammer meer as die ja dit klink lekker.
So kom die verjaarsdag naweek aan en eers vier ons Charl se negende verjaarsdag saterdag saam met sy maters. Sondagoggend sing en kuier ons in die bed saam met Charl. Ons wonderwerkie is nege. Ek bly tranerig. Ons kleinman word grootman. Een uur begin die gaste opdaag vir kuier. Wat ‘n fees so saam met die mense wat kon kom. Lekker gesels, min stress! Ek en Gerhard is doodmoeg Sondag-aand. Diep dankbaar dat ons geseën is met ongelooflike vriende wat in die hitte net lekker kan kuier. My hart jeug! Die malkoppie het regtig aan malkoppie sindroom gelei – baie vrugte en slaaie.. maar skoon vergeet van blare en tamatie vir die burgers. Gelukkig is ons vriende en almal lag oor my flater. Vanoggend voel ek my ouderdom vat vat aan my lyf… of dalk is dit die staan voor die kuier om als gemaak te kry. Die vraag ..sal ek dit weer doen? Beslis! Dis heerlik om mense wat mens min sien te kan ontvang en net verder te kuier van waar mens laas opgehou het. Soos ek skryf wonder ek hoe ek gaan onthou oor wat ek al geskryf het. Ek het nogal die vermoë om ‘n lekker storie weer te vertel. Hopelik is die storie se onthou dieselfde.
Vannaand sit ek weer by die werk, die term wat ons gebruik is ‘hotfix’; ek het nou aan die Afrikaans gesit en dink en ek het op warm regmaak uitgekom.. klink sommer verkeerd. Die realiteit is dat ons kode op produksie vrylaat om ‘n produksie probleem regtemaak. Dit is laat nagte en omgee oor kode en toetse met ‘n handjie vol kollegas wat saam omgee... Die res van die bestuur gebruik die duimpie of the handeklap emojies as ons aspris die ‘ons is klaar boodskap’ laat nag of vroeg oggend tik en stuur en hoop dit maak die wakker wat eintlik hier moes gesit het. My kop tol nogal vannaand, hoe op aarde het ek in IT beland. Wat het my besiel om uit besigheid te skuif. Ek het het ‘n paar hero’s in my besigheidslewe, ek bly bevoorreg. Ek voel vannaand om my superman te bel en te vra vir ‘n vrypass. Kort ek ‘n red van waar ek nou is? Weet ek wat ek wil hê? Waar lê my passie? Van ‘n hoogte na ‘n laagte binne dae… Ek dink dit is net vandag se onsekerheid op die vloer wat my twyfel in myself weer laat opvlam. ‘n Paar daggies oor dan gaan ek op vakansie.. die nuwe jaar sal antwoorde bring of ander geleenthede bring. So kom nog ‘n verjaarsdag, ek wonder as ek 90 gaan word is ek nou halfpad.. as ek 80 gaan word is ek oor halfpadmerk en o wee.. as ek minder as 80 gaan word dan is dit afdraende.
Party mense slaan dekking as hulle middeljare tref. Ek is nou middeljare, gaan ek nog meer moeilik word. Dit sal nogal sleg wees want daai metertjie hardloop al klaar in die rooi. Dik, bedonderd en oud… Dit sal my dryf om te verander! Dalk is dit tyd om maer, bedonderd en oud te wees.. of dalk dik en blymoedig? Is oud …oud? Is dit nie net ‘n getal nie? Getal wel… twintig is ek nie meer nie. Dit het die lyf vir my gou gesê. Met die droogte het ons huishouding die ADDIS emmer brigade geword. Alle water word opgevang in houers en met emmers tuin toe gedra. Die ou lyf het aan die begin gesukkel. Rug seer, arm seer.. alles seer... Voor die emmer dra was die groot waarheid van die ou lyf die baie sit! Die enigste oefening wat ek kry is om van die parkade waar my kar vir my wag tot by my lessenaar te stap.. .dit is 7 stelle trappe tot by my lessenaar! As ek by my tafel kom is die asem kort. Dalk is dit my nuwe gier.. nee.. kan nie nuut wees nie want ek het dit al baie keer gehad. Maar ek gaan my lyf weer oefen om jonk te wees, my brein weer oefen om te glimlag al kook die bloed. Geen wonder middels nie.. net minder eet, meer stap en dink voordat ek reageer. Reageer uit liefde! My leuse: Ouderdom bring wysheid, wysheid bring geduld. Met my nuutste gier weet ek ook dat as ek misluk is dit ook OK!.., Want LIEFDE bedek alles! Ek het die voorreg om omring te wees deur baie liefde, Agt uur sit ons in ‘n oorvol auditorium en luister na ons CEO. Angstig wag ek om te hoor waar pas ek in die groot legkaart. Is my vaardigheid nog nodig? My gedagtes is vol van ek.. ek … ek .. Ek is veilig, die angstigheid maak plek vir nuuskierigheid .. wie is waar… wie het nie ‘n plek nie… Lyk my die keer het almal oorleef… dit is ‘n regruk van hoe ons dinge doen!
My positiewe wat ek uithaal vandag :
Totsiens is ook gesê. Lekker eetgoed en ietsies om te drink. Baie water onder die brug. Baie verskille. Baie goed gesê oor jare. My hart bly seer. Ek luister na die bedankings en ek onthou die mylpale, die mens, die hoogtepunte… mens vergeet die wenne, die lekker! Dis vrydag, na vier uur! Huistoe gaan tyd. Vandag was ‘n groot dag van baie veranderinge… tog wil ek dankie sê vir nuwe dinge maar vir ou dinge wat my gevorm het! Elke persoon onthou gebeure soos wat hy dit wil onthou. Jare terug se onthou oor dinge wat soos sere op jou lyf groei en wat mens koester en vertroetel in jou gedagtes bestaan nie in die ander persoon se onthou leërs nie.. of die prentjie wat onthou word is baie anders as jou skets geerts in jou geheue.
Dit weergalm in my siel… onthou jy dan nie? Jare later kyk jy neer op ander wat dieselfde foute maak! Jy oordeel maklik ander maar jou lewe was vol gate en krom draaie? So motiveer ons mekaar deesdae om die bagasie van onthou af te lewer, te vergewe al word daar nie vergifnis gevra nie en daarvan te vergeet. Verander sal mens die nie kan nie. Vergewe is ‘n groot woord maar met baie gebed sal mens daaruit kom. Die een ding wat die geleerdes verseker reg het, as mens dit koester maak dit net jou siek en seer. So hou op om oudae se dinge vandag se pyn te maak. Leer uit ander se doene dat jy nie ‘n persoon se sere word nie. Bly by nou, leef vir nou, het lief vir nou! En sê jammer as jy iemand seer maak… al het jy dit nie bedoel nie. Wees versigtig vir jou monsters wat jou opvreet van binne wat jou verhoudings met ander verdonker. My pad kruis soms mense wat gebore is met ‘n “van” wat bekend is en of stink ryk van ou-geld. ‘n Siel in die familie het jare terug baie geld gemaak, hetsy dit deur geluk of harde werk. Deur die geslagte het die geld en of roem vir die familie ‘n seker status gebring.
Opgewonde merk ek my haarkapper tyd uit in my dagboek. Ek boek sommer vroeg Desember my afsprake vir ‘n jaar vooruit. Hang af van my gemoed en haastigheid maar dit kan my 2 tot 3 ure besig hou. Selfsugtige tyd… soms ek en ‘n boek, of soms klets met almal om my. Die stories wat ons vertel in die vertoulike omgewing van ‘n haarkapper laat my elke keer glimlag. Ek rek partykeer my nek om die gesig te plaas by die storie wat ek hoor.
Nou vrydag is dit weer tyd vir ontspan. Die vorige aand was eenwoord ROF, nee die daai sort rof nie, werksrof met ‘n ‘release’, (die vertaling sê vrylating.. maar ons laat darem nog nie kode vry nie- dit word nog mooi op hok gehou.. skuif dit net na produksie toe.) wat gesukkel het, ek kon eers 1 uur die oggend afteken. My medewerkers ken my ook.. hulle noem my die ‘ouma-interface’ na 10 in die aand. Dan wil ek net feite hoor en geen verskonings… oumens moeilik! Sal as ek meer moed het eendag werkstories vertel. Ek sit en Ansie vra soos gewoonlik: ‘Wat doen ons vanmiddag?” Sommer als, ek verander my strepe se kleur, my basis kleur en dit is tyd om te sny.. lekker kort... hare kan mos weer groei. Sy vertel my dat daar net voor my ‘n vrou was wat ook sê sy wil heeltemal anders lyk .. maar sy mag nie te veel afsny nie, nee haar kleur is nog reg. Nou hoe lyk mens anders as mens nie wil verander nie? Wat hou ons terug? Is ek en jy bang vir verandering? Mis ons nie soms goeie goed omdat ons te bang was om die besluit te neem nie. Wat van? Sê nou net.. is denke wat ons net terughou! Risiko.. wat kan mens verloor… Verander jou denke! Dink wat kan jy wen? Dalk is dit nou die tyd om ons vrese vrytelaat en te waag. Verander jou denke oor verandering. Ek was so ruk huisvrou net nadat ons Kaap toe verhuis het van Johannesburg. Ek het uit universiteit dadelik begin werk… so my werk was my identiteit. Ek het ook geglo ek sit sent vir sent neer wat my man bydrae, partykeer was dit maar moeilik, verskillende beroepsvelde, verskillende salarisstrukture. Met die beroepstatus verandering het my titel verdwyn… volgens my, my identiteit.
Met die verhuis koop ons vir ons ‘n nuwe plekkie om nes te skrop. Met die vorms wat ek moet invul, besef ek hoe belangrik my werkstitel vir my was. Ek moet in ‘n blokkie invul wat my beroep is! My hart sak in my skoene … wat moet ek skryf? Ek het minderwaardig gevoel. Ek laat die gevoel toe want ek is skaam om te sê ek werk nie in die formele werksektor nie. Ek het nie ‘n titel nie! Ons gee so om oor wat ander van jou sê of dink. Ek wou vir almal skree dat ek net soos my man hard gewerk het vir die geld wat die nuwe huis nou gaan koop. Ek is nie net die vrou van die suksesvolle man nie, NEE! Ek is ‘n eie persoon! Hoor hoe belaglik was my denke, my gevoel. Agtien maande het ek die ondankbare werk gehad van huishouding, kinders en tuin. Alleen en vereensaam het ek geword. Nuut uit ‘n ander provinsie met geen familie of vriend. Bang om my CV in die mark te sit. Soveel negatiewes keer my elke keer. Hoe kan ek myself weer verkoop, hoe kan ek vir hulle vertel van my vaardighede. Ek gaan vir my eerste onderhoud, onsuksesvol! My tweede een suksesvol. Ek het weer die titel! My denke het verander. Die titel maak my nie belangrik nie. Ek is belangrik, net soos elkeen van ons! Maak nie saak wat jy doen nie… Menswees is nie maklik nie. Elke dag in my stiltye wonder ek oor my reaksies die dag, my gevoel en intense emosies wat ek beleef het… My menswees. Ek bly verstom oor hoe ek soms reageer en op die spesifieke oomblik gedink het. Dit voel of my hart oorvat en my brein nie kan byhou nie. Diep dankbaar vir my ankers in my lewe. As dit nie vir hulle was nie het die skippie seker al gesink.
Ons word gevorm deur ons ervaringe. Die besluit bly by my of ek in beheer wil bly! Ek het drie keuses oor hoe ek kan reageer: Oorleef: Ek kan dit vat, myne maak, my reaksie verander en oorleef. Immigreer: Ek kan ‘n besluit neem dat ek dit nie kan verander nie. Ek kan my losmaak van dit en immigreer. My term, my besluit. Vlug: Die laaste opsie is om dit te ignoreer en hoop dit gaan weg, dit maak my dan net ‘n vlugteling. Onthou jy het die mag om te kies, as jy jou mag vir iemand anders gee dan verloor jy nie net jou stem nie maar jou invloed op die besluit. Oorleef ek as mens, is ek ‘n vlugteling of verkies ek om ‘n immigrant te wees? Die besluit lê by jou! |
AuthorHannelie van Niekerk Archives
December 2022
Categories |