Ons is die 'lekker' generasie. Ons is soos verkleurmannetjies. Ons kan verkleur soos die situasie dit van ons verwag.
Ons wil tog nie soos ons ouers wees nie. Wonder soms of ons nie die grootste rede is vir ons kinders se onvermoë om agter hulleself skoontemaak of selfs net die melkbottel se prop terug te draai nie. Ons is mos in beheer! Die naweek gesels ek en 'n vriendin oor inligting reg of verkeerd wat vrylik beskikbaar is. Ons kinders is gekonnekteer of ons daarvan hou of nie. Ek moes lag oor ons verwysingsraamwerk. Blou films op videos en die scope met sterretjies. Ons het daarvan geweet en daaroor gegiggel maar wie van ons het werklik 'n film gekyk? Die sterre in die scope het my laat bloos.. nou is die sterre in die hemel en die naakte waarheid oopgevlek vir almal om te sien sonder skaam. Hoe hou jy jou kind onskuldig? Beperkings by die huis word ingestel. Maar meneer, mevrou.. kinders deel en daar gaan 'n maat wees wat perongeluk op iets erens afgekom het. Is jou kind se fondasie sterk genoeg? Kan hulle dit hanteer wat hulle in aanraking mee kom? Onthou! Ons kan nie kies wat jou kind sien en hoor buite jou mure nie. Maar omvou jou kind in respek, vertoue en baie liefde. Luister as hulle met jou praat en vertel altyd die waarheid. Vir ons as ouers - hou daai lyn oop na God om vir genade te vra en vir wysheid hoe om al die goed te hanteer. ‘n Baie goeie vriendin het lank, lank terug vir my gesê vriende is soos seisoene. As die seisoen oor is dan is die vriendskap oor. Jy moenie probeer vasklou aan iets wat net nie meer daar is nie.
Dit is wreed. Ek het ‘n gevoel van vashou en koester… In my hart is vriende… vriende. Of dit nou familie is of mense wat oor jou pad kom, ons klassifiseer ons vriende van waar jy hulle ontmoet het. Van skoolvriende tot jou kind se maatjie se ouers. Skoolvriende was jou spesiale vriende, als gedeel – nou volg ek hulle lewe deur die prentjies wat hulle met almal deel op Facebook. Mense wat jou lewe met jou gedeel het, is nou vreemdelinge. Universiteitsvriende, ons was aan die heup gebind, hartskamers oopgevlek. Jonk en vol lewe, sonder roetine het ons nagte omgekuier. Gelukkig was selfies en selfoonkameras nie deel van ons bestaan. Kuiers is vasgevang in ons geheues, of dalk nie, hang af hoe lekker ons gekuier het. Soms ‘n paar foto’s geneem met ‘n mik en druk wat nou verblyk in ‘n oorvol album. Onthou die lekker van gewese vriende. Soos wat vriendskappe verval word ander gevorm. Koester nou die mense wat jou vriend wil wees. Maak nuwe herinneringe met die mense wat NOU in jou lewe vertoef en GENIET dit. Die diep behoefde brand in my om seker te maak dat eendag as my kids terug dink en iemand vra hulle wat was vir hulle lekker kersfees tyd, dat hulle ‘n storie kan vertel. Die storie moet gevul wees met tradisies. Die ‘Van clan’ se tradisie.
Kop vol planne en idees maar elke jaar voel dit leeg en oppervlakkig. Die Avent kalender word getrou gepak voor die tyd en Desember 1 begin die roetine van neem net een lekkertjie. Dit is ook die dag vir boom versier. My obsessie oor orde het net die eerste paar jaar gehou – nou lyk ons kersboom soos ‘n kersboom. Iets bly verkeerd, my behoefde vir tradisie gryp ek na goed wat eintlik maar almal se storie is. Verlede jaar kom Shiloh oor my pad. Die behoefde by hulle is om ‘n verskil in die gemeenskap te maak op Kersdag. Groot beplanning begin en elkeen offer om iets te maak. Die spyskaart is hoender stukke, brood, aartappelslaai en wortelslaai. Ou Kersdag rasper ek met hand wortels... bakke vol. Vroeg opstaan Kersdag, ry Klipheuwel toe... plakkerskamp,..pak tafels uit, dek tafel met borde en eetgery, braai hoender en skep kos vir die gemeenskap. God se teenwoordigheid is tasbaar. Saam werk, saam lag, hartverskeurend om die mense te sien. Groot lag vir ons oor ons spyskaart, ons mense ken nie aartappelslaai en wortelslaai nie, maar die hoender en die brood is ‘n wenner. My hart bars van vreugde. Vir die eerste keer op 44 jaar voel ek in my menswees die doel van Kersfees. Om te gee… sonder om terug te verwag. Te kry wat woorde nie kan beskryf nie.. wat geld nooit sal kan koop nie. Ons het nog ons tradisies van ou Kersaand se groot ete dat die pote van die tafel kraak. Gesinsdag gaan kuier by wynplaas van vroeg middag tot laat. Maar die gemeenskapsete op Kersdag gaan ons storie word. My kern van Kersfees is nou om ‘n storie van God se LIEFDE te kan deel, my GROOTSTE geskenk nog. Huilend hardloop Chaney (my dogter) met Stellie (ons Labrador) huistoe. Stellie het gif geëet! Slakgif! ‘Blue Death’! Waar? Vinnig speel, mond oop, was uit met water, blou slak gif val uit haar bek. Was weer! My kind in skok! Hoe troos ek as ek twyfel! Hou Stellie dop.. lyk my ons was betyds. Sy gaan oorleef! Na-skok tref my.. die kwaad spoel oor my! Meneer weet jy dan nie? Gif maak kind en kraai dood. Wetlik mag jy NIE gif gooi waar die publiek dit kan kry nie. Hoe sou jy voel as dit jou kind was wat die gif geëet het? Stellie is ‘n hond.. maar deel van my gesin! My hart klop vinnig. My temperament het ontvlam! Kalmeer! Wat nou? Moet ek omstap en gaan klop.. nee… ek sal die man te lyf gaan. Tegnologie! My vriend! Boodskappie gaan uit na sekuriteits-omringde gemeenskap, hou dit vriendelik! Geen reaksie! Geen jammer! Kan jy glo! Hoe nou gemaak… my bloed kook… …. Kern van my storie: Dink voor jy gif gooi waar kind of dier dit kan kry! Jy! Ja jy! Kan iemand vermoor! Het jy al gevoel dat daar soveel woorde in jou rondwoel dat mens nie vinnig genoeg dit agtermekaar kan kry nie.. dit is seker wat YL JY beteken. ‘n Dosent by RAU het dit op een van my antwoordstelle geskryf .. maar toe was dit eerder dat daar net niks woorde was en ek op herhaling van een onbenullige feit staat gemaak het.
Ek as persoon vorm so vinnig ‘n persepsie, ek maal dit oor en oor in my kop, soos ek na myself luister sit ek sommer hartsgevoelens by. Dit word dan my diepgegronde waarheid wat ek met oortuiging deel. My besluite en my gesprekke word dan gebasseer op die gevormde persepsie waarheid. Hier is waar die tor nou begin wankel , ek hou nie my waarheid wat ek gevorm het vir myself nie. Nee! Dit sal die lewe oninteressant maak, ek gee dit vrylik uit vir almal wat wil hoor. Weereens nie ‘n probleem nie MAAR daar is tog mense wat luister en dit hulle waarheid maak.. nou het ons ‘n gemors want sosiale media help ons TE vinnig om ons selfgevormde waarhede te versprei! ‘n Veldbrand sal nie kers vashou nie. Wat is die kern van my storie: Pasop om jou waarhede ander se waarhede te maak. Dink voor jy iets sê en maak seker jy verstaan die impak van jou woorde. Roetine ruk ons huis tot realiteit. Twintig oor sewe stoot my kar se neus deur die sekuriteitshek by die werk. Onmiddelike frons verskyn op gemartelde voorkop. Dit is soos my uniform deesdae. My naam word gebruik om programmeerders bang te maak, soos wat ek, as ma, die bergie man gebruik om my kinders die skrik op die lyf te jaag. Ek was eens op die tyd die jongste op die vloer, en ja.. die pop.. nou is ek die dik bedonderde vrou in die hoek op die 2de vloer… dit is ‘n ander storie vir ‘n ander dag.
Vandag wonder ek oor MAG. Ons almal smag na mag. Nou is my kop vol wensdenkery.. as ek maar net genoeg geld gehad het.. dan sou ek darem nou die waarheid vir my baas vertel het. My ouma was reg.. AS is verbrande hout. Wag dat ek vertel wat in my kop rondtol. My seun, my sportkind, neem aan alles deel so ook skool-krieket. Het jy ook al gewonder hoe word spanne gekies? So besluit ek in my wysheid om die skool te kontak sodat ‘n deskundige my kan vertel hoe werk dit. So saam met die groot wysheid wat in my brand besluit ek dat ek ‘n gat soos Kimberley se gat in hulle verduideliking sien en ek vat toe tyd om die termyn se wedstryd briewe te analiseer. Dis mos my vaardigheid by die werk – ek sien probleem, ek bewys probleem en dan probeer ek probleem oplos. Nog ‘n geskrewe kommunikasie gaan skooltoe om die betrokke gat aan hulle te verduidelik. Nou is ons in die vierde kwartaal, my kind het nooit weer span gekry nie.. want die MAG sit nie by my nie, dit sit by die juffrou wat die wedstryd briewe tik wat nie my analise van haar administrasie waardeer het nie. …… die kern van die storie: Moenie jou hand verspeel as jy geen MAG het om die situasie te verbeter nie.. dit kan dit dalk net slegter maak. |
AuthorHannelie van Niekerk Archives
December 2022
Categories |