Elke mens het ‘n snaakse manier en laat ander se wenkbroue lig. As ek op die rakke van winkels kyk kan ek nie glo dat sommige goed verkoop word nie .. maar dit doen. Ek sien dit nooit in die trollies van mense nie maar dit is altyd op die rakke.. en ek weet as dit nie verkoop nie word dit vervang deur produkte wat wel verkoop.
Ek gaan vroeg winkels toe op ‘n saterdag as my tyd nie deur kinder sport opgeslurp word nie. Agt uur is ek al reeds daar gereed om deur te draf terwyl die res van die kaap nog slaap.. half nege is ek klaar. Ek het net nie die temperament om die winkel met meer as 10 mense te deel nie. Ek wil fokus.. in en uit.. nie wonder of ek oor iemand moet ry wat in die middel van die paadjie staan en klets nie… en as mens askies vra jou ignoreer nie. Nog erger as hulle hul tong vir jou klik of vertel hoe ongeskik mens is.. wat meer moet ek doen.. jy staan in die pad.. ek vra mooi dat jy jouself en jou trollie sal skuif dat ek verby kan kom. Dan mense wat voor die rakke staan, stewig staan. Ek kan glad nie by my een item uitkom nie.. Ek sien sy sien my… maar vas staan die staan sy! Weer met geknersde tande moet mens mooi vra dat sy spasie maak vir jou wat gou net iets van die rak wil neem. As mens die gange oorleef het is dit by die betaalpunt wat jou menswees nog verder beproef word. Hoe is daar nie ‘n pakker by elke punt nie. Ek het al geleer.. geen pakker – dan pak ek stadig uit sodat die een op die til pak terwyl sy scan. Dit vat gewoonlik so 10 minute se bespreking om die konsep te verduidelik. By dan het daar ‘n pakker uit die niet verskyn.. die ou wat die kameras dophou het seker gesien die vrou is besig om kort van draad te word. Jou haastig is nie almal se problem nie. Soms is dit goed om dalk op te kyk en nie befoeterd in iets in te gaan nie. Of mens nou half nege klaar is of kwart voor.. geduld is ‘n gawe.. ek bid dat ek dit sal aanleer. Suid-Afrika is ‘n oop land, ‘n mooi land met baie geure, kleure en gemoede. Ek wonder of ek besef hoe moeilik dit is om miljoene te verstaan en gelukkig te hou. Ek wat ook so maklik mense kritiseer op my persepsie. Ons in ons klein gemeenskap sukkel om respek en liefde vir mekaar te gee.
My tyd is gesteel deur lang eposte wat iemand se optredes probeer regverdig. Boodskappe om laaste sê te laat geld alhoewel die persoon uitstorm uit vergaderings. Ek is keelvol vir afguns en sal ek dit roep rasisme. Die atmosfeer dik en onplesierig. Ek is net bly dat gesonde verstand tog gewen het in die onplesierige geveg. Dankbaar vir mense wat daaraan werk om wat stukkend is weer heel te maak. Ek persoonlik het ‘n paar lesse geleer, die grootste is maar dat my velkleur en my taal my nie dieselfde maak as wat jy is nie al word ons albei wit Afrikaners genoem. Ek verskil van jou want my siel, my waarheid, my verstand en my hart verskil van jou. Hoe ek dinge beleef en sien en hanteer maak my ek. Ek hoef nie van jou te hou nie.. maar ek verwag dat ons in respek sal saamleef.. dat ons met integriteit mekaar sal verdra. My woorde is my woorde en my gevoel. Jou woorde is jou woorde en jou gevoel. Mag ons in harmoenie verskil. |
AuthorHannelie van Niekerk Archives
December 2022
Categories |