Ek word so vas gevang in elke dag se roetine dat as mens tyd kry om net te sit dan voel dit vir my of ek wil skree. Ons is nie op aarde gesit om elke dag op dieselfde tyd dieselfde ding te doen nie. Hoe nou gemaak? Ons lewe word beheer deur tyd en goed wat op spesifieke tye begin. My wekker gaan 6 uur af. My wil is sommer opstandig.. wil dooddruk en net opstaan as ek my oë self oopmaak. Gou dink ek aan die impakte van die besluit. My kinders gaan of laat wees vir skool of glad nie opdaag nie. Die skool begin elke dag op dieselfde tyd. Ek en my man gaan laat wees vir werk. Ek moes lag – verbeel jouself as daar nie roetine was nie.. dan sou ons opgedaag het soos ons wou en niemand sal niks gedoen kry nie. Wat kan ek doen om in my lewe van roetine tog vry te voel en nie vasgehok nie? Ry ander paaie as jy die kinders aflaai of moet ry – kyk om jou rond. Besluit om gelukkig te wees vandag. Ek is altyd verbaas as my gemoed lig is hoe dit my omgewing en die reaksie van mense om my beinvloed. Maak jou kop skoon! Daar is soveel goed wat ons doen en so deel is van ons roetine wat nie nodig is nie. Vat die stap en smyt dit uit. Maak plek en tyd vir dinge wat jou siel voed. Soos ek tik, hou ek die tyd dop want ek moet vandag fyn beplan en volgens tyd ry sodat ons betyds is vir al die aktiwiteite. My gemoed is senuweeagtig, Dit is vandag die WP proewe vir hokkie. Vannaand gaan ek agteroor sit, uit vrydag aand roetine en kuier, lag en mens wees. As jy bid moet jy spesifiek wees. God weet alreeds wat jy wil vra maar Hy wil weet dat jy dit kan verwoord. As ek vra om vergifnis kan ek nie net so in die algemeen vra nie, ek moet presies sê waaroor ek jammer is.. dit gee my dan tyd om te dink oor wat ek gedoen of gesê het en hoekom ek jammer is. Soms is ons jammer omdat van ons verwag word om jammer te wees.. eers altyd goed om te dink … presies te wees. So is ek vandag by Shiloh en een van die vrouens vertel dat hulle in hulle oggend gebed baie spesifieke behoefte gehad het en ernstig in hul gebed gevra het. Baie spesifiek. Net voordat ek daar instap kry sy SMS van ‘n weldoener wat vra of hulle ‘n behoefte het en gee die detail. Dit is presies soos wat hulle gebid het die oggend. Groot wonderwerk.. Hoe ongelooflik is ons God? Hoendervel slaan oor my lyf uit. Haar getuienis is eenvoudig en eerlik.. God voorsien… jy moet net bid en glo. Sosiale media gons oor die optogte en protes teen ons regering. So tussen die aansporing, kry ek vandag van ‘n kerk ‘n advertensie. Die kerkgebou word oopgemaak vrydag oggend – die dag van protes, ek en jy word uitgenooi om saam te bid vir ons land, vir alles wat verkeerd is. Kom ons protes saam deur te bid oor wat verkeerd is.. ons vra ons God om ons te lei, om ons te help. Bid dat ons motiewe reg is. Ons moet bid vir regverdigheid en vir geregtigheid. Oppas om te bid vir eie gewin. Terwyl ons biddend staan… onthou om te bid vir reën… baie reën veral oor die damme se opvangsgebiede. |
AuthorHannelie van Niekerk Archives
December 2022
Categories |