Suid Afrika is my land, dit is ‘n land van sonskyn! Voorwaar ‘n reënboog nasie so deurmekaar gegooi. My land het ook sy seer. Van die seer word nou gedokter deur pleisters op te plak. Die seer bly daar.. die pleister help nie vir enige een betrokke nie.
My emosie word ook beheer oor wat ons sien, wat ons glo en wat mense om jou, jou wys maak. So hardloop my dogter die naweek 100m. Vrydag aand doen sy baie goed en gaan deur na finaal. Ons hou ons asems op by finaal. My kind hardloop haar bene styf. Derde of vierde – nie seker nie.. maar sy kry nie ‘n token van die beampte nie. Sy gaan vra en al wat hulle vir haar sê is dat sy gediskwalifiseer is. Stuur haar terug en die antwoord nou is dat sy uit haar baan getrap het. Nee, video bewys kan nie gebruik word nie. Al wat oorbly is aanvaarding, die stadiger kind het haar plek gekry. Dit is nie die eerste keer nie en dit gaan nie die laaste keer wees wat ons land se seer my kind gaan affekteer nie. Ons is gewaarsku dat ons voorvaders se sondes deurgetrek word na die vierde geslag. So ons het nog ‘n paar geslagte om te gaan. Hopelik kry ons tussenin vergifnis vir mekaar, verstaan hoekom mense sekere dinge sê en doen. Ek het die begin van Februarie sjokolade opgegee… so mal soos ‘n haas.. wie in sy regte verstand sal so iets doen. Ek het al oor die streep getrap.. ja.. ja.. onthou van elke dag sjokolade eet tot niks het ernstige gevolge.
Dit is ‘n siekte, ek het onttrekkingsimptome, my kop is seer en my humeur hardloop vinnig in die rooi. Ek bly honger! Die woord wilskrag kom by my op. Die wil is daar maar die krag ontgaan my. Ek het altyd gedink ek kan enige iets doen as ek my kop daarop sit. Ai tog.. maar om my kop reg te hou is moeiliker as ooit. Oefening is nog op my lys van weeklikse aktiwiteite. Voor die skool begin het was ek 3 keer daar, nou is ek gelukkig as ek een keer per week daaruit kom. Dit bly maar ‘n marteling. Met my ouderdom nou, moet ek seker maak my blaas is leeg vir die op en af spring. My broek bly bo en my t-hemp haak nie vas in ‘n vetrol nie. Ek voel die min oefening aan my klere, dit begin lekker styf sit. Ongelooflik hoe mens hunker na oefening ook. Soos ek sê so mal soos ‘n haas. Ek wil nooit ophou lag vir myself nie. Ek wil seker maak ek bestee my tyd op goed wat werklik saak maak. Ek hoop vir krag kry om nie die sjokolade in my mond te druk nie. Mag die skaal my genadig wees. Ek begin vandag ‘n storie skryf en halfpad toe vee ek dit uit. Ek lees die woorde en ek besef dit was net weer ‘n groot moan oor ander mense se dinge en maniere. My kern gedagte vandag is moenie die bobbejaan agter die berg gaan haal nie en moenie ander se bakleie joune maak nie. Twee belangrike en oorhesende gedagtes die afgelope ruk in my siel.
Die bobejaan wou ek oor die berg sleep pens en pootjies. Ek het al begin moeilik raak oor wat as, my as! Hoe mors ek nie my tyd nie. Erger ! Die week was ek die ouer langs die veld. Hokkie keurder in my kop. Ek vergelyk talente en hoe die kinders speel. Ek moet lag vir myself. Ons hoor vandag of ons saam toer, soos elke ouer van elke kind wat deel was van die proewe hoop ek my kind is in ‘n lekker span. Wonder nou oor die term buig nie onder groepsdruk nie. Die graad sesse het nou ‘n hele periode oor dit gesels. Sommige mense verwar die feit dat seker dinge waarmee mens saamstem logika is en nie noodwendig groepsdruk nie. Die feit dat almal oor iets saamstem maak dit nie verkeerd as jy saamstem nie. Ander kere kan jy verskil. Iets wat ek baie hard aanwerk is die manier waarop ek verskil. Dit kan nogal die reaksie van die ander persoon beinvloed. Mens kan verskil van mense! Ek moet versigtig wees dat ek nie my kwaad op ander probeer druk om saam met my te baklei nie. Mag die regte dinge op die regte tyd met elkeen van ons gebeur. |
AuthorHannelie van Niekerk Archives
December 2022
Categories |