Ek is nou al 23 jaar ‘n van Niekerk. Dit is nou so, ek is langer ‘n van Niekerk as wat ek my nooiensvan was. Ek weet ek is geseën dat ek op ‘n jong ouderdom ‘n ongelooflike sielsmaat gekry het. Met al my foute aanvaar hy my soos ek is. Hy is lief vir my soos ek is. As ek my trou foto vergelyk met my nou is ek letterlik dubbel die mens wat ek was die dag toe ek ewig trou gesweer het. Ek kan my sterre dank dat ons liefde dieper is as die oppervlak. Ek weet dit is beslis ook dubbel die lekker!
Ek hoor myself sê: ‘n Van Niekerk tree nie so op nie. Ek giggel oor hoe ek mense met dieselfde van dieselfde wil maak. Ek koppel karaktereinskappe aan ‘n van. Wat dink jy? Pas jou van aan by jou karakter of pas jy aan by jou van se karakter? Ek is verkeerd. ‘n Van het nie karakter nie. Dit is net die mens.. maak nie saak wat sy naam of van is nie. Sommige goed is ingebore, diep gewortel. Ander leer jy aan soos die lewe jou maal en snoei. Dit is nou weer tyd om na my eie eienskappe te kyk, waar kan ek selfverbeteringe aanwend . Dit is tyd vir skoonmaak. Kop, liggaam en siel. Sal met die siel begin want dit is die maklikste en bring vrede binne mens dat mens energie het vir die kop en liggaam. Geseën is ek elke keer…baie dankie Heer
Oorvloed .. ek het so baie goed Maklik om te klink ek spog.. help my, my woorde kies met sorg Waarom kla… sonder om ‘n las te dra Is ek gevoelloos as ons gesels, wil ek hê dat als oor my behels Heer gee my insig, dat ek my doen op Jou rig Gee my wysheid saam met tyd my bedoeling is goed, mag dit ons vriendskap voed Ek wonder soms hoekom daar altyd ‘n verloorder moet wees? Hoekom sommige mense net altyd alles maklik kry? Klink nou of ek jaloers is… en as ek eerlik moet wees, ek is!
Ek kyk na die tieners wat deel is van my lewe. Dan kom die vraag nogal op hoekom is dit dat party kinders dit net moeiliker het as ander? Een kind is geseën met breins, sport gene asook ‘looks’ en ‘n ander kind sukkel op skool, doen nie goed in sport nie en is nie populêr nie. Kan die talente nie eweredig versprei word oor almal nie? Hoe kan mens die kind help om in homself te glo? Mens se eie waarde word weerspieël deur hoe jy dinge hanteer en hoe jy reageer. Hoe leer ek ‘n kind om deur die waarheid te sien hoe waardevol hy of sy is. My mooi kind is vandag uit haar sport span gedrop. Groot is die teleurstelling . Haar vraag ... hoekom ek… bly onbeantwoord. Ek kry die nuus en ek is sommer dadelik moeilik . Baie braaf oortuig sy my dat sy OK is. Die punt van my storie (ek het dit omtrent twintig keer oorgeskryf) is dat in die groter prentjie een of twee teleurstellings mens sterker maak. Daar is ‘n doel met mense wat oor jou pad kom en dinge vir jou moeilik maak . Ons moet dankbaar wees dat ons so geseën is met baie talente en gawes. Onthou! Daar is altyd iemand wat beter is as jy. Daar is altyd iemand wat swakker is as jy. As jy die slag wen – dra dit met nederigheid. As jy verloor vat dit met grasie. Baie opgewonde is ons al kwart oor vier by die stadium. Die lekker sitplekke gevat. Gerhard met sy seer knieg moet afgly by ‘n wal om ‘n oop spasie te beset .. ons maak onsself sit so in die helfde van die wal. Ek skop my hakke in die grond dat ek nie afsak nie. Gerhard het nie hakke nie, hy kan ook net met een been rem. Eerste jaar les.. volgende jaar gaan ons die ouers wees wat voorbereid is.
Ons het nie gereël met vriende om saam te sit nie… so ons land toe tussen die ander skole se ouers. Het lekker gegrap en gesels. Ons bevoorreg om sulke goeie skole te hê, op die voorstoep van ons huis. Ses uur kom die rasieleiers op die veld. Elke skool kry ‘n beurt om hulle ‘flashes’ te doen. Elke skool se energie en passie is aanvoelbaar. Hier stem jy met jou hart! Elke ouer glo vas sy skool se ‘flashes’ is die beste. So ook die ma en pa. Ons harte swel van trots. Ons is deel van dit. My kind is op die paviljoen. Die beoordelaars is besig om te koukus en saam met vandag se atletiek en gees gaan wenners aangekondig word. Ek glo vas elke kind op die paviljoen is klaar ‘n wenner. Die feit dat hy of sy onselfsugtig sy tyd gegee het. Opgedaag het .. en als met oorgawe aangepak het maak elkeen ‘n wenner. Ek gaan nou nou ry om vir my kind te kyk by atletiek. Die ouer bors is vol van trots. Haar sweetpak is ver te groot, die kleinste wat die klerebank het. Van ‘n geld spaar oogpunt gaan dit haar hou tot sy eendag oud is… sy is op haar senuwees wil prestreer.. hoe laat ek haar verstaan dat die feit dat sy wou deelneem, dat sy toe in die atletiek span is, is al klaar ‘n ongelooflike prestasie. |
AuthorHannelie van Niekerk Archives
December 2022
Categories |