Malkoppie Terapie
  • Blog

Hannelie van Niekerk

RSS Feed

Leë bladsy

1/5/2022

1 Comment

 
Picture
Wat is my plan dat 2022 nie net verby spoed nie!  Ek wil leef, werklik leef.  Dankbaarheid en seën beleef.  My grense, oeroud, moet verrot dat ek nuwe ongetemde areas ontdek.   Missie is om nie te verval in net nog ‘n roetine nie.  Te fokus sodat elke minuut tel, al is dit om te lê en droom oor nog ‘n avontuur.  Elke droom moet aksies insluit om dit ‘n werklikheid te maak.

Die begin wanneer alles nog besig is om te ontvou, maak tyd om jou administrasie af te handel.  Planne te vorm oor elke asem, minuut.  Moenie jouself kastei oor mislukkings nie, probeer net weer.  Ek het laasjaar oor die orosmannetjie geskryf, dink ek wou hom afskud, maar hy klou maar nogsteeds aan my.   Ek hoor konstant by maer mense hulle wil tog nie vet wees nie. Pla dit my, ja, wys ek dit, nee.  Gaan ek die jaar weer probeer, seker.  Het ek al begin probeer, ja, het ek misluk, ja, gaan ek weer probeer, seker.

Die belangriskste fokus is om seker te maak jy gun ander mense hulle lekker, hulle sukses.  Hou op verskonings maak omdat jy nie so mooi, maer, selfde geleenthede gekry het nie of nie so slim is nie.  Elke ou het ‘n seer, ‘n skaam, ‘n martelstok om te gebruik as verskoning.  Onthou sukses is wat jy vir jouself gestel het.  Nie wat ander vir jou wil stel nie.  Ek gaan nou nie my missie maak om die ryskste vrou in Suid-Afrika te word nie, maar ek gaan wel begin spaar en geleenthede soek wat sal toelaat dat ek kan dinge doen wat ek van hou.
​
Hou jou beker vol sodat jy maklik vir ander kan skep uit jou beker.  Hou jou hart oop sodat jy die lekker van liefde beleef.  Hou jou tyd dop dat jy nie mors met die kosbare skat nie.
1 Comment

My dogter

11/8/2021

 
Picture
Brilliejies en skewe tande het ontpop in die mooiste dame
Hardwerkend, talentvol en goeie hart
Lewe gee slae en jy staan sterk geanker,
met God se arms om jou gevou
Jou pa voor en jou ma agter jou
stap ons saam. 
Wens ek kon jou altyd beskerm soos toe jy klein was,
maar jou fondasie is gegiet en sterk
Moet nooit dat ander jou vuur blus nie
Lief vir jou 

Size does matter

9/18/2021

 
Picture
Vir 6 jaar het ek die voorreg gehad om te voel hoe werklike perdekrag onder ‘n bonnet voel.  Trap petrol en jy word sommer terug gedruk in jou sitplek.   Die ‘thrill’ van spoed net as jy liggies die petrol trap.   Die spoedkaartjies het ons posbus gevul.

Met die besluit om nuwe kar te koop, moes ek baie dinge oorweeg.  Die grootste is die las wat ‘n kar eintlik is.  Die verandering was brutaal.. van blitsvinnige gemaklike kar na ‘n ‘n brullende skilpad.  Die nuwe kar brul soos ‘n leeu as jy die engin begin… maar as jy die hekke oopmaak verander die verwagting van ‘n leeu op volspoed vinnig na ‘n kruipende skilpad wat moan.

Ek weet ek kla met die witbrood onder my arm en ek is dankbaar vir die wiele wat my van punt A na B toe vat.  Ek kyk nou met bewondering as die magtige karre verby my spoed, ek sal nie sommer nou ‘n kar by die verkeerslig aanvat om te kyk wie eerste by die volgende een stop nie… ek mag dalk net verloor.
​
Eendag as ek groot is gaan ek weer die skilpad inruil.  

Die BAD

7/22/2021

 
Picture

Die Bad

Ons praat van die eier bad.  As jy ons ken weet jy dat ons nie fancy is nie… maar ons het ‘n fancy bad.  ‘n Klip bad wat ons geerf het toe ons die huis gekoop het.

Die bad is ‘n ovaal vorm.  So die onderste gedeelte waar mens se boude pas is nou.  Groot probleem.  As mens aan die dik kant van die spektrum lê is ‘n nou onderkant van ‘n bad nie die regte opsie nie.  Jy kan nie lekker lê in die bad nie want jou boude pas nie, die bad is diep, die water wat jy moet gebruik sodat dit oor jou boepie te laat kom is duisende liters…  onthou nou .. daar is ‘n gaping tussen lyf en onderkant want jy is te dik om die bodem te voel… so water verplasing van lyf in water gebeur eers op ‘n later stadium.  Jy tap nog water dan is mens al klaar geseep en gespoel. 
​
So ons fancy bad is vir show.  Nog ‘n probleem want niemand sien dit nie.  So in my kop dink ek dat dit eendag die huis sal verkoop, want jy het ‘n fancy bad.. maar wat as die persoon ook aan die dik kant lê… ons dikkes sien dit gou.  Nou hoor ek jou vra hoe het ons dit dan nie gesien nie .. onthou dit is 17 jaar terug.. toe was ek nog passend in die bad.  Vir die vriendinne wat gesondheidsbewus is … nee dit gaan nie werk om gewig te verloor nie want dit is jare se eet… so dit gaan jare se smelt van vet kos …  die beste idee is: Tyd vir ‘n  nuwe bad!

Voel geliefd

6/30/2021

 
Picture
Die nuwe manier van verjaarsdag gelukwense is mos om op Facebook of whatsapp ‘n boodskappie te los.  Ek sien die jonger klomp sit dit op hulle sosiale media status.   Ek is ook skuldig hier aan, dink aan die persoon maar vat nie tyd om stil te staan en te bel nie.  Makliker om net gou ‘n boodskappie te tik.

Die week het ek weer besluit om persoonlik my verjaarsdagwense aan mense oor te dra.  Ek bel en as ek kan probeer ek ‘n geskenkie aflewer.   Om seker te maak die persoon weet dat hy of sy spesiaal is vir my. 

Dit is ongelooflik lekker om die waardering te ervaar.  Een vriendin se woorde, sy voel geliefd het my net weer laat dink hoe maklik dit is om iemand spesiaal te laat voel op hulle spesiale daggie.
​
Volgende keer as jy boodskappie tik, stop.. Bel liewer!  Gee jou tyd as geskenk vir die persoon.  Konnekteer weer deur te gesels, te lag en ‘n oomblik te deel.      

Waar daar rook is, is daar vuur

6/10/2021

 
Picture
Ek glo aan ‘n magtige God! Ek glo aan wonderwerke en ek glo aan genade.  Ek glo aan ons brandweer manne wat hulle beste doen om my en jou veilig te hou.

Die ‘wat as’ gedagtes kan mens soos ‘n tol laat spin.  Die bang hou jou gevange in jou eie gedagtes. 
My bang het saterdag oggend begin.  Ons huis het begin brand.  Dak balke by braai het vlam gevat.  Rook kan ek ruik, maar besef nie die gevaar is bo ons koppe nie.   Geen vlamme sigbaar.   Ek ry vir afspraak, net om 15 minute later ‘n boodkap te kry, jul huis brand. 

My liefde vir jaag kom handig te pas, klok 210 km/h op Durban road.   Ek binne ‘n minuut terug by huis. Rook sigbaar.. geen vlamme.  In warboel is dit net kinders, honde en katte by bure kry.  Dan die karre uittrek.  My verstand staan stil, ek weet nie wat om te red en wat om te los nie.

Twee brandweer-trokke daag op en toe weet ek als is in beheer.   Hulle spuit die vuur binne die dak.  Water stroom by dak uit.  Die balke moet koud wees anders brand hulle net weer.  

Ons engel het hard gewerk.  Ons en ons huis is beskerm.  Skade het ons.  Die wonderwerk is ons leef!  Dit wat skade het kan herstel word. 

My leer punte: Rook verklikkers moet in dak geinstalleer word,  maak seker dat skoorstene gediens word elke jaar.  As jy rook ruik, kyk op en in jou huis, doen ‘n nood plan vir jou huis dat almal weet wat om te doen as die alarm afgaan.  Dink nou wat jy moet gryp, in die oomblik hak mens se kop vas.  Onthou altyd lewe kom bo enige aardse besitting.
​
My verhaal is nie uniek nie, my verhaal is geseën met wonderwerke.  Ek is dankbaar.

Sommer net ek

5/27/2021

 

​Sommer net ek

Picture
Ek is moeilik, mens moeilik.  My reg en my verkeerd is my wit en my swart.  Vir bystaanders kan dit na grys lyk.  Net soos wat ek hulle reg en verkeerd as grys sien.  Dit laat my besef waarop ek my besluite en denke grond is gevorm deur ou hande in my kinderjare.  Ervarings wat mens soms in jou agterkop gooi en wil vergeet.  Keuses wat nie joune is nie maar jou lewe se pad met slaggate gevul het.  Die lewe het my ook geleer dat sommige mense se reg hulle persepsie is, soms glo hulle, hulle eie versinsels…dit word dan hulle waarheid.  Dit is ‘n gesprek vir ‘n ander tyd.

Ek vang myself weer vandag dat ek my frustrasies op my dogter uithaal.  Die arme kind kan haar beste probeer maar ek sal tog ‘n fout sien en haar daarop wys.  Ek wonder hoekom dit so is.  ‘n Goeie vriend van my universiteits-dae het eendag omgedraai en weggestap… ek het dit reggekry om sy omgee brug aftebrand en hom so ver weg te stoot dat ons nie eers meer kennisse is nie.    Ou laai van my… moenie te naby kom nie.   Dankbaar dat sommige mense deur my sien en nog steeds naby my bly al grawe ek klowe om my, om myself te beskerm.

Ek sien van die jongmense se sukkel met goed wat ek ook mee geworstel het in my kinderjare.  My raad is altyd, dit is nie jou lewe nie, jy hoef nie skaam te wees vir iemand anders nie.  Moenie iemand anders se dinge joune maak nie.   Hulle besluit oor hulle lewe,  jy besluit om jouself te beskerm teen hulle.  Die feit is al is jy hoe sterk gaan dit in jou menswees filtreer en uitkom in jou manier van oorleef. 

Tyd vir stilword en werk daaraan om my deure se skrefies wyer oop te maak vir die mense wat regtig daar wil wees.  

My skatte

5/5/2021

 
Picture
Die wete dat jy geliefd is, is seker die grootste skat wat mens kan kry.  Liefde is een van die fondamente wat elke persoon se lewe op geskooi is.  Liefde, geloof en hoop.. maar die grootste hiervan is die Liefde.

Die groot vyftig loer so om die draai vir my.  Dit laat my dink weer oor my vyftig jaar op aarde.. ons kan seker die eerste 15 jaar afslag kry – dan is mens te dom om te weet wat jy doen het eintlik impak op jou lewe.  So ek moet rekenskap gee oor 35 jaar.  Die getalletjie lyk baie… die leef vol ‘ups and downs’. 

Goed waaroor ek my dood   gestress het .. lyk nou belaglik .. maar dit is maklik om terug te kyk.  Die in die oomblik gevoel kan jou magteloos laat. 

Dood het mense uit my lewe kom pluk,  tyd, waardes, baklei en afstand het ander kom steel.  Ek besef nie die mis gevoel totdat dit jou keel toedruk nie.  Van my naby mense, vertouelinge is nou ver of weg.  Sommige vervang ander sal altyd ‘n leemte laat.
​
Koester die mense in jou lewe.  Leef elke dag asof dit jou laaste is.  Skop negatiewe gedagtes se gat en vervang dit met hoop, geloof en liefde.

OROS MANNETJIE

3/22/2021

 
Picture
So baie woorde so min papier.   Vandag is dit die herdenking van ‘n jaar ingehok en bang vir enige iemand wat naby mens asem haal.  Pleks dat ek vir kos bang is maar die is mos my troos, my groot tekortkoming.

Die naweek moes ek myself weer opsom toe dink ek aan die vakansie.  Soms kan mens grootkop kry dan maak die lewe jou weer nederig.  Ons huur ‘n huis en die badkamer het ‘n groot spieel.  As mens op die toilet sit dan kan mens jouself bekyk.  As ek myself sien dan sien ek die oros mannetjie.  Tot my mooi enkels.. is nou stompe.  My arms voel te kort vir my lyf… en my vet klere is nou my maer klere.. ek het niks om aan te trek nie… niks pas nie!

Ek sien, ek weet ek moet iets doen… maar as ek myself vind is ek in die kombuis, dood honger.  Iets in die hand om te eet.  Kopskuif… harde ingryping is brood nodig! 

Het al begin, het al misluk en dan weer begin en weer misluk.  Ek weet ook ek is redelik sterk, hardkoppig.  Nou moet ek net hardegat raak as mense vertel hoe sukkel hulle om 2 kilogram te verloor dan lyk die vrou al soos ‘n geraamte.   Jip,  daai sug.. met ‘n tuit mond vertel hulle jou hoe ‘vet’ hulle is.  Dan sit jy daar en kan nie oor jou maag kyk na jou dik enkels nie.  Self toegedien! Ek weet! 
​
Die stryd is werklik! Ek nou oppad om vir my vetter klere te gaan koop.  Ek raak nou te benoud in dit wat in my kas hang.  Sal dit wegpak en weer uithaal as ek die stryd begin wen… of weggee soos wat ek altyd maak.

Elke interaksie is ‘n stempel

12/3/2020

 
Picture
Die jaar is lank, die geduld op en die menswees kortaf en moeilik.  Enige klein ding kan ‘n afset wees vir ‘n skree of uitval.  My gedagtes val by my mond uit sonder die wag wat dit soms toeverf of die mes steke verbloem.

Nou wonder ek watter stempel ek op jou druk as ek my frustrasie nie op hok kan hou nie.  Skuldig of onskuldig, verdiend of onverdiend. 

Loslappies van gedagtes maak ‘n lappieskombers.  As mens terugstaan dan lyk dit of een stukkie lappie nie pas nie,  maar dit is daar.. lostrek is baie werk.   So ook is ons verhouding stukkies van aksies en interaksies, om dit ongedaan te maak is baie werk.. so wees versigtig wat jy gebruik in jou verhoudingskombers.

Ons woorde het groot impak, so ook ons houding en ons aksies.   Ek kan deesdae so maklik my kop skud of dalk my oe rol.  Dink soms ek gaan ‘n oog verloor soos wat ek dit kan rol.  My geloof en maniere is nie ‘n ander se geloof of manier nie.  Ek is nie reg en hulle verkeerd nie.  Ons moet mekaar spasie gee om te leef en te dink soos wat ons oortuigings is. 

Die jaar is lank, selfs goed waarvoor ek lief is raak uitdagend… sukkel om ‘n boek gelees te kry, moeite om my kamera op te tel.  Woorde kom stadig.. voel soos opstel skryf. 

Tyd om te rus

​Mag 2021 vir almal ‘n sleutel gee om julle hartsbegeertes oop te sluit.  
<<Previous

    Author

    Hannelie van Niekerk
    'n Ma van 2, 'n vrou vir een, 'n mens met 'n ongeslypte lus om te skryf.

    ​Onthou om jou drome jou eie realiteit te maak

    Archives

    January 2022
    November 2021
    September 2021
    July 2021
    June 2021
    May 2021
    March 2021
    December 2020
    November 2020
    September 2020
    July 2020
    June 2020
    May 2020
    April 2020
    January 2020
    December 2019
    November 2019
    October 2019
    September 2019
    July 2019
    June 2019
    May 2019
    April 2019
    March 2019
    February 2019
    January 2019
    December 2018
    November 2018
    October 2018
    September 2018
    August 2018
    July 2018
    June 2018
    May 2018
    April 2018
    March 2018
    February 2018
    January 2018
    December 2017
    November 2017
    October 2017
    September 2017
    August 2017
    July 2017
    June 2017
    May 2017
    April 2017
    March 2017
    February 2017
    January 2017
    December 2016
    November 2016
    October 2016

    Categories

    All

    RSS Feed

Powered by Create your own unique website with customizable templates.
  • Blog